PSALMS 60 - Afrikaans 1983

Help ons tog teen die vyand

1Vir die koorleier: op die wysie van “Die lelie”. 'n Getuienis. 'n Gedig van Dawid, vir onderwys bedoel,

2na aanleiding van sy geveg teen die Arameërs van Mesopotamië en die Arameërs van Soba toe Joab twaalf duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.

3U het ons verstoot, o God,

ons uitmekaar geskeur.

U was kwaad vir ons.

Laat dit tog weer met ons goed gaan.

4U het die land laat bewe en dit oopgekloof.

Genees tog die wonde, want ons gaan tot niet.

5U het 'n ramp oor u volk gebring,

U het ons wyn laat drink wat ons laat steier het.

6Trek tog u dienaars saam onder u vaandel

dat hulle veilig kan wees teen die boog van die vyand. Sela

7Red ons deur u groot mag, en help ons,

sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word.

8God het in sy heilige woning gesê:

“As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel

en die Sukkotlaagte uitdeel!

9Aan My behoort Gilead, aan My behoort Manasse!

Efraim is my vernaamste vesting,

Juda my koninklike gebied.

10Moab is tot my beskikking,

Edom neem Ek in besit,

oor Filistea juig Ek as oorwinnaar.”

11Wie sal ons na Edom toe lei,

ons bring na sy versterkte stad?

12U het ons verstoot, o God,

U trek nie saam met ons leërs uit nie, o God!

13Help U ons tog teen die vyand,

want die hulp van mense – dit is niks.

14Met God aan ons kant sal ons oorwin,

Hy self sal ons vyande vertrap.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help