JESAJA 52 - Afrikaans 1983

Julle sal losgekoop word

1Word wakker, word wakker,

ruk jou reg, Sion.

Trek mooi klere aan,

Jerusalem, heilige stad!

Mense wat nie besny is nie

en mense wat onrein is, sal nie meer in jou kom nie.

2Skud die stof van jou af en staan op, Jerusalem,

jy wat 'n gevangene is.

Maak los die toue om jou nek, Sion,

jy wat 'n gevangene is.

3So sê die Here:

Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie;

julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie.

4So sê die Here my God:

In die begin het my volk afgegaan na Egipte toe

en daar gewoon as vreemdelinge;

later het Assirië hulle verdruk.

5En wat kry Ek nou hier in Babel? vra die Here.

My volk is sonder rede weggevoer,

hulle leiers huil, sê die Here.

My Naam word gedurig belaster.

6Daardie dag sal my volk my Naam bely:

dat Ek die Here is,

dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!

7Hoe wonderlik klink op die berge

die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,

wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,

wat redding aankondig,

wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

8Hoor, jou wagte roep hard,

hulle jubel almal saam,

want hulle sien dat die Here na Sion toe terugkom.

9Jubel en juig, puinhope van Jerusalem,

want die Here het vir sy volk uitkoms gebring,

Hy het Jerusalem verlos.

10Die Here het sy heiligheid, sy mag, geopenbaar voor die oë van al die nasies.

Tot aan die uithoeke van die aarde

sal hulle die redding sien wat ons God bewerk het.

11Gee pad, gee pad, kom uit uit Babel!

Moenie aan iets raak wat onrein is nie.

Kom uit daar! Sorg dat julle rein is,

julle wat die tempelgereedskap dra.

12Julle hoef nie haastig pad te gee nie,

julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie:

Die Here gaan voor julle uit,

die God van Israel kom agter julle aan.

Oor óns sondes is hy verbrysel

13My dienaar sal voorspoedig wees.

Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang.

14Baie mense was ontsteld oor hom,

hy was so misvormd

dat hy nie meer soos 'n mens gelyk het nie,

nie meer die voorkoms van 'n mens gehad het nie.

15Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.

Konings sal sprakeloos wees oor hom,

want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie,

hulle sal iets te wete kom

wat hulle nog nooit gehoor het nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help