JOB 22 - Afrikaans 1983

Elifas: Daar is geen einde aan al jou sondes nie

1Toe sê Elifas die Temaniet vir Job:

2“Kan 'n mens vir God tot nut wees?

Nee, die verstandige is vir homself tot nut.

3Watter belang het die Almagtige daarby dat jy reg het,

watter voordeel het dit vir Hom dat jou lewenswandel vroom is?

4Is dit oor jou diens aan Hom dat Hy jou straf,

dat Hy 'n saak teen jou het?

5Is jou verkeerde dade dan nie baie nie?

Daar is geen einde aan al jou sondes nie.

6Sonder regverdiging het jy van jou eie familie goed in pand gevat,

jy het die klere van dié wat niks het nie, van hulle afgestroop.

7Jy het vir dié wat uitgeput was, nie water gegee nie

en geweier om vir dié wat honger was, kos te gee.

8Jy, 'n ryk man, het grond in besit gekry,

jy, 'n man van aansien, woon daarop.

9Maar jy het weduwees met leë hande van jou af weggestuur

en weeskinders sonder heenkome gelaat.

10Daarom is daar net vangstrikke rondom jou

en het angs jou skielik oorval.

11Daarom is dit so donker dat jy nie kan sien nie

en verswelg vloedwaters jou.

12Is God dan nie hoog in die hemel nie?

Kyk net hoe hoog sit die sterre!

13Jy dink dalk: wat weet God?

Hy regeer uit die donkerte uit.

14Daar is wolke rondom Hom, Hy kan nie sien

terwyl Hy daar bo in die hemelgewelf wandel nie.

15Wil jy op die ou pad hou

wat deur sondige mense uitgetrap is?

16Hulle is weggeruk vóór hulle tyd:

die dinge waarop hulle gebou het, is deur 'n stroom meegesleur.

17Hulle het vir God gesê: ‘Laat staan ons.

Wat kan die Almagtige aan ons doen?’

18En dit terwyl dit Hý is wat hulle huise met rykdom vul!

Daarom bly ek weg van die raad wat van goddeloses af kom.

19Dié wat reg doen,

sien die ondergang van die goddeloses en is bly,

die onskuldiges spot met hulle:

20Ons vyande is daarmee heen,

vuur het hulle besittings verteer.”

Elifas: Onderwerp jou aan God

21“Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef,

en so sal jy voorspoed hê.

22Laat Hy jou leer

en neem sy woorde ter harte.

23As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word.

As jy die kwaad ver van jou woonplek af hou,

24jou goud as nikswerd beskou,

die goud uit Ofir as so min werd as 'n klip in die spruit,

25sal die Almagtige jou goud wees,

jou skat aan silwer.

26Dan sal jy jou in die Almagtige verlustig

en jou weer tot God wend.

27Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou gebed verhoor,

die beloftes wat jy gemaak het, sal jy nakom.

28Wat jy besluit, sal uitgevoer word,

dit sal voorspoedig gaan met jou.

29Wanneer mense val

en jy vra dat hulle opgetel word,

sal God hulle, die ootmoediges, red.

30Hy sal die skuldiges laat vrykom,

en hulle sal vrykom deur jou onskuld.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help