SEFANJA 1 - Afrikaans 1983

1Die woord van die Here wat gekom het tot Sefanja seun van Kusi, seun van Gedalja, seun van Amarja, seun van Hiskia. Dit het gebeur in die regeringstyd van koning Josia van Juda, seun van Amon.

Ek gaan 'n einde maak aan alles op aarde

2Ek gaan 'n einde maak aan alles op aarde, sê die Here,

3Ek gaan 'n einde maak aan mens en dier,

aan voëls en visse,

Ek gaan 'n einde maak aan dié wat mense laat struikel het,

en aan die goddeloses;

Ek gaan die mense van die aarde af uitroei, sê die Here.

4Ek gaan my hand uitsteek teen Juda

en teen al die inwoners van Jerusalem,

Ek gaan uit hierdie plek uitroei

wat daar nog van Baäl oor is:

die naam van die afgodspriesters, van alle priesters:

5dié wat op die dakke die hemelliggame aanbid,

dié wat die Here aanbid

en aan Hom trou sweer

maar terselfdertyd ook aan Milkom,

6dié wat die rug vir die Here draai,

na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie.

Die dag van die Here is naby

7Wag in stilte op die Here God!

Die dag van die Here is naby!

Hy het 'n maaltyd voorberei,

en dié wat Hy genooi het, gewy.

8Op die dag van die maaltyd sal Ek, die Here,

die amptenare en die prinse straf,

almal wat uitlandse klere dra.

9Daardie dag sal Ek almal straf

wat uit bygeloof nie eens op 'n drumpel trap nie

en wat die huis van hulle Koning

met geweld en bedrog vul.

10Daardie dag, sê die Here,

sal daar noodkrete klink uit die Vispoort uit,

gehuil uit die tweede stadswyk,

harde smartkrete van die heuwels af.

11Huil, inwoners van die Vysel,

want al die handelaars word uitgedelg,

almal wat geld afweeg, word uitgeroei.

12Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek

en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink:

die Here doen nie goed óf kwaad nie.

13Hulle besittings sal geplunder word,

hulle huise verwoes word.

Hulle sal huise bou, maar nie daarin woon nie,

wingerde plant, maar nie die wyn drink nie.

14Die groot dag van die Here is naby,

baie naby, dit kom gou.

Luister hoe bitter, hoe skril klink

die geskreeu van die soldate dié dag!

15Dié dag is 'n dag van toorn,

'n dag van nood en benoudheid,

'n dag van storms en verwoesting,

'n dag van donkerte, van duisternis,

'n dag van wolke, van swaar onweer,

16'n dag waarop die ramshoring sal blaas

en die krygsgeskreeu sal klink

teen die vestingstede, teen die hoë hoektorings.

17Ek laat angs die mense pak

sodat hulle soos blindes loop,

want hulle het teen My gesondig.

Hulle bloed sal vergiet word

asof dit so min werd is as stof,

asof hulle liggame

niks meer as uitwerpsel is nie.

18Nóg hulle silwer nóg hulle goud

sal hulle kan red op die dag

wanneer die toorn van die Here losbreek,

wanneer die hele land verteer word

deur die vuur van sy woede.

Hy bring vernietiging en skrik

oor al die inwoners van die land.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help