PSALMS 73 - Afrikaans 1983

Dit is vir my goed om naby God te wees

1'n Psalm van Asaf.

God is vir Israel baie goed,

vir dié wat rein van hart is.

2Tog het ek daaraan begin twyfel,

ek het byna koers verloor,

3want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën

toe ek hulle voorspoed sien.

4Hulle het geen kwellings nie,

hulle is sterk en gesond,

5hulle het nie sorge soos ander mense nie,

hulle het nie teëspoed soos ander nie.

6Daarom hang die trots aan hulle soos 'n halssnoer

en kleef geweld aan hulle soos 'n kleed.

7In die weelde van hulle voorspoed

matig hulle hulle enigiets aan;

8smalend stook hulle kwaad,

hooghartig dreig hulle met geweld.

9Hulle laster teen die hemel

en beledig links en regs op die aarde.

10Tog hang die volk hulle aan

en drink gretig hulle woorde in.

11Hulle vra: “Hoe sal God dit uitvind?

Hoe sal die Allerhoogste dit weet?”

12Dit is hoe die goddelose mense is!

So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop!

13Dat ek die kwaad vermy het

en met 'n eed my onskuld verklaar het,

het dus niks gehelp nie,

14want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring

en elke nuwe môre straf.

15Maar as ek so sou aanhou praat,

sou ek dié verloën wat aan U behoort.

16Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan

en was dit vir my bitter moeilik

17totdat ek in die heiligdom van God ingegaan

en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.

18U laat hulle op gladde plekke loop,

U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei.

19In 'n oogwink word hulle iets afgrysliks,

gaan hulle te gronde, tref 'n verskriklike einde hulle.

20Net soos 'n droom wat ophou as 'n mens wakker word,

so verdwyn hulle, Here, as U ingryp.

21Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het,

22was ek dom en sonder insig;

soos 'n redelose dier het ek my teenoor U gedra.

23Tog was ek nog altyd by U,

want U vat my aan die hand.

24U lei my met u raad

en aan die einde sal U my in ere by U opneem.

25Daar is niks in die hemel of op die aarde

wat vir my meer beteken as U nie.

26Al is ek afgetakel na liggaam en gees,

God is my sterkte;

aan Hom behoort ek vir altyd.

27Dié wat ver van U af is, gaan verlore,

U vernietig dié wat aan U ontrou is.

28Maar wat my aangaan, dit is vir my goed

om naby God te wees.

Ek het die Here my God gekies as my toevlug!

Ek sal van al u werke bly vertel.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help