MIGA 3 - Afrikaans 1983

Teen die slegte leiers

1Ek het gesê: Luister, leiers van Jakob,

regeerders van Israel!

Weet julle nie wat reg is nie?

2Julle wat die goeie haat en die verkeerde liefhet,

julle wat die mense se vel van hulle afskeur,

die vleis van hulle bene af,

3wat my volk opeet asof hulle vleis is,

hulle vel afstroop

en hulle bene opkap,

wat hulle opsny vir die kookpot,

soos vleis vir die braaipan.

4Wanneer hulle tot die Here roep,

sal Hy hulle nie antwoord nie.

Dan sal Hy Hom nie aan hulle openbaar nie,

want hulle het baie verkeerd gehandel.

5So sê die Here oor die profete wat my volk verlei,

die profete wat van vrede praat so lank hulle kos kry,

en as iemand hulle nie bly instop nie, oorlog teen hom verklaar:

6Daar is vir julle net nag, nie 'n gesig nie,

donkerte, nie 'n voorspelling nie.

Die son sal ondergaan vir hierdie profete,

die dag sal pikdonker word oor hulle.

7Die sieners sal teleurgestel staan,

die voorspellers sal bedroë daarvan afkom.

Hulle sal almal treur en hulle baard bedek as teken van rou,

want God sal nie antwoord nie.

8Ek, daarenteen, het baie krag,

ek het die Gees van die Here, 'n sin vir reg

en die moed om aan Jakob sy sonde bekend te maak,

aan Israel sy oortreding.

9Luister hierna, leiers van Jakob,

regeerders van Israel,

julle wat die regspraak minag

en alles verdraai,

10julle wat vir Sion met moord gebou het

en Jerusalem met onreg:

11Jou leiers lewer uitspraak vir omkoopgeld,

jou priesters gee onderrig teen salaris,

jou profete maak voorspellings teen betaling,

en tog verwag hulle hulp van die Here!

Hulle sê: “Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.”

12Daarom is dit julle skuld

dat Sion soos 'n stuk land geploeg sal word,

dat Jerusalem 'n puinhoop sal word,

dat die tempelberg 'n hoogte vol bossies sal word.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help