PSALMS 140 - Afrikaans 1933/1953

Gebed vir beskerming teen goddelose mense.

1 VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid.

2Red my, Here, van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld;

3wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek.

4Hulle maak hul tong skerp soos 'n slang; gif van 'n adder is onder hulle lippe. Sela.

5Bewaar my, Here, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot.

6Trotsaards het vir my 'n vangnet gespan en toue; hulle het 'n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel. Sela.

7Ek het tot die Here gesê: U is my God; luister tog, Here, na die stem van my smekinge!

8 Here Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd!

9 Here, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela.

10Wat betref die hoof van die wat my omring — laat die onheil van hulle lippe hulle oordek.

11Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie!

12Laat die kwaadspreker nie op aarde bevestig word nie; die man van geweld — laat die ongeluk hom jaag met slag op slag.

13Ek weet dat die Here die regsaak van die ellendige, die reg van die behoeftiges sal behartig.

14Sekerlik, die regverdiges sal u Naam loof, die opregtes sal voor u aangesig woon.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help