JOB 26 - Afrikaans 1933/1953

Job gee te kenne dat hy die grootheid van God net so goed ken as Bildad.

1MAAR Job het geantwoord en gesê:

2Hoe goed het jy die onmagtige bygestaan, die kragtelose arm gehelp!

3Hoe mooi het jy die onwyse raad gegee en beleid in oorvloed bekend gemaak!

4Aan wie het jy woorde te kenne gegee, en wie se gees het uit jou uitgegaan?

5 Die skimme is beangs onder die waters en onder die bewoners daarvan.

6Naak lê die doderyk voor Hom, en die plek van vertering het geen bedekking nie —

7voor Hom wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor 'n niks;

8wat die waters saambind in sy wolke sonder dat die wolkgevaarte daaronder skeur;

9wat die gesig van die troon toehou deurdat Hy sy wolk daaroor uitsprei.

10Hy het 'n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig.

11 Die pilare van die hemel wankel en staan verstom weens sy dreiging.

12Deur sy krag bring Hy die see in beroering, en deur sy verstand verpletter Hy Rahab.

13Deur sy asem word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang deurboor.

14Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat 'n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help