1WELGELUKSALIG is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel.
2Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;
3 ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.
4Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou.
5Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou!
6Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie.
7Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.
8Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie.
Bet.9Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
10Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.
11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
12Lofwaardig is U, o Here! Leer my u insettinge!
13Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.
14Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.
15Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.
16Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.
Gimel.17 Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar.
18Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.
19Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie.
20 My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.
21U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.
22Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar.
23Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge.
24Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.
Dalet.25 My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord.
26My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!
27 Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.
28My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord.
29Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet.
30Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.
31Ek kleef u getuienisse aan; o Here, maak my nie beskaamd nie!
32Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.
He.33 Here, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.
34Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.
35Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae.
36Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.
37Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.
38 Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.
39Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed.
40Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.
Wau.41En laat u goedertierenhede oor my kom, o Here, u heil volgens u belofte,
42sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord.
43En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek.
44Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,
45en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.
46Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.
47En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,
48en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.
Sajin.49Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het.
50Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.
51Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie.
52Ek het gedink, o Here, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos.
53 Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat.
54U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap.
55 Here, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou.
56Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het.
Get.57Die Here is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar.
58Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte.
59 Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.
60Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.
61Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.
62 Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge.
63Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou.
64 Here, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge.
Tet.65U het goed gedoen aan u kneg, Here, na u woord.
66Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.
67 Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.
68 U is goed en doen goed; leer my u insettinge.
69Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.
70 Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.
71Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.
72 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
Jod.73 U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.
74Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek.
75Ek weet, Here, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.
76Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.
77Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging.
78Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele.
79Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken.
80Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie.
Kaf.81 My siel smag na u heil; op u woord wag ek.
82 My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos?
83Want ek het geword soos 'n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie.
84 Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers?
85Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie.
86Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my!
87Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie.
88Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou.
Lamed.89Vir ewig, o Here, staan u woord vas in die hemele.
90U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan.
91Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte.
92As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende.
93Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak.
94Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele.
95Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse.
96 Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd.
Mem.97 Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.
98U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.
99Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing.
100Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.
101Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar.
102Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer.
103Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.
104Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.
Noen.105 U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.
106Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou.
107Ek is baie diep neergedruk; Here, maak my lewend na u woord!
108Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o Here, en leer my u verordeninge.
109 My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie.
110Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie.
111Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.
112Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.
Samek.113Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief.
114U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.
115 Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!
116Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie.
117Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let.
118U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.
119U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief.
120 My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.
Ajin.121Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie.
122 Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie.
123 My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid.
124Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge.
125 Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken.
126Dit is tyd vir die Here om te handel: hulle het u wet verbreek.
127Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.
128Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.
Pe.129U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle.
130Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.
131Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek.
132Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet.
133 Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.
134Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou.
135 Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge.
136 My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.
Sade.137 Here, U is regverdig, en reg is u verordeninge.
138 In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou.
139 My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het.
140U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief.
141Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie.
142U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.
143Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging.
144U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe.
Kof.145Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o Here! Ek wil u insettinge bewaar.
146Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou.
147Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek.
148My oë is die nagwake voor om u woord te oordink.
149Hoor my stem na u goedertierenheid; o Here, maak my lewend volgens u verordeninge.
150Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is.
151 U, o Here, is naby, en al u gebooie is waarheid.
152Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het.
Resj.153 Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie.
154 Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte.
155 Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie.
156 Here, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge.
157My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie.
158Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie.
159Aanskou dat ek u bevele liefhet; o Here, maak my lewend na u goedertierenheid.
160Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Sin, Sjin.161 Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.
162Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind.
163Leuens haat ek en het daar 'n afsku van; u wet het ek lief.
164Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge.
165Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.
166 o Here, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie.
167My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief.
168Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.
Tau.169 o Here, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord.
170Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte.
171My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge.
172My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid.
173Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies.
174 o Here, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.
175Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help.
176Ek het gedwaal soos 'n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.
Who We AreWhat We EelieveWhat We Do
2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.