Psalms 141 - Die Boodskap

’n Dawidspsalm

1Here, ek bid tot U. Help my asseblief gou. Luister na my.

Help my as ek tot U bid.

2Ek hoop dat dit vir U aangenaam is om my gebed te hoor.

My gebed is soos ’n rustige lied om vir U dankie te sê.

3Here, help my om nie onnodig te praat nie.

Leer my om versigtig te wees met wat ek sê.

4Keer my dat ek nie lus kry om slegte dinge te doen saam met mense wat U nie dien nie.

Hulle stel net in hulleself belang. Hulle doen verkeerde dinge.

Help my om nie saam met hulle slegte dinge te doen nie.

5Ek gee nie om as iemand wat die Here liefhet met my oor my verkeerde dade praat nie. Al maak dit my baie seer, weet ek dat hy dit uit liefde doen.

Daarom sal ek luister as hy my waarsku of raad gee.

Ek bid egter dat mense wat die Here nie dien nie, sal ophou met al die slegte goed wat hulle doen. Ek kuier nie eens by sulke mense nie.

6Daarom is ek baie bly om te hoor dat hulle mag gebreek is.

7Hulle bene sal oral rondlê soos grond wat omgeploeg is.

8Here, ek het U baie nodig. U beskerm my.

Moet asseblief nie dat dinge vir my skeefloop sodat dit vir my voel of die laaste bietjie lewe uit my getap word nie.

9Beskerm my teen slegte mense wat my tot ’n val wil bring.

Mense wat slegte dinge doen, probeer my op ’n skelm manier om die bos lei.

Laat hulle wat U nie dien nie, in hulle eie slaggate trap.

10Laat hulle deur hulle eie geknoei ten gronde gaan.

Maar ek, ek sal verder gelukkig lewe.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help