Psalms 26 - Die Boodskap

Vir Dawid

1Here, sorg tog dat die regte dinge met my gebeur, want ek doen net wat U sê.

Ek vertrou op U, Here.

Ek twyfel nie ’n oomblik aan U nie.

2U kan my lewe maar toets, Here.

Kyk wat binne-in my aangaan en wat ek alles dink.

3U sal sien dat ek u voorbeeld navolg. Ek onthou altyd dat U my liefhet.

Ek luister na U en doen goeie dinge vir ander.

4Ek meng nie met mense wat ’n slegte invloed op my kan hê nie.

Ek kom nie by mense wat voorgee wat hulle nie is nie.

5Daarom bly ek weg van mense wat net slegte dinge doen en U nie dien nie.

Ek haat alles wat hulle doen! Hulle leef sonder U.

6Here, ek is onskuldig. Ek was my hande in onskuld.

My lewe is skoon.

Ek wil U vol blydskap dien. Ek loop na die plek waar mense U dien.

7Saam met u ander kinders wil ek U loof.

Ek wil praat oor al die wonderlike dinge wat U in my lewe gedoen het.

8Ek gaan graag kerk toe; daar beleef ek saam met ander gelowiges u grootheid op ’n ongelooflike manier. Ek is lief vir u teenwoordigheid.

9Moet my nie soos ’n sondaar behandel nie.

Moet my tog nie saam met mense wat ander doodmaak, laat doodgaan nie.

10Hulle doen vieslike dinge. Hulle is daaraan gewoond om mense om te koop.

11Maar ek leef nie so nie. Ek is onskuldig.

Daarom smeek ek: red my, wees goed vir my.

12Ek weet dat ek by U veilig is. U maak my pad gelyk.

Oral waar u kinders bymekaarkom, sal ek U loof.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help