Genesis 49 - Die Boodskap

Jakob se laaste woorde aan elke seun

1Jakob het al sy seuns laat kom en vir hulle gesê: “Kom staan hier om my. Ek wil iets oor elkeen van julle en julle toekoms sê.

2“Kom, Jakob se kinders, staan nader en luister goed. Luister mooi na julle pa, Israel.

3Ruben, jy is nou wel my eersgeborene,

my steunpilaar en my eerstelingseun.

Jy moes die vernaamste

en die belangrikste onder jou broers gewees het.

4Jy is egter soos ’n waterstroom

wat sy eie pad loop.

Jy sal nie meer die belangrikste wees nie,

want jy het by Bilha, my byvrou, geslaap

en my diep seergemaak.

5“Simeon en Levi is broers.

Hulle is mans van geweld

en hulle doen die allerverskriklikste dinge.

6Met hulle geheime planne wil ek niks te doen hê nie.

Ek wil nie deel van hulle vergaderings en grootpratery wees nie.

In hulle verskriklike woede maak hulle mense dood

en maak hulle diere moedswillig kreupel.

7Dit sal sleg met hulle gaan

omdat hulle woede geen perke ken nie,

omdat hulle wrede dinge aanvang.

Ek sal hulle sonder enige grond tussen die ander stamme laat woon.

8“Juda, al jou broers sal jou eer.

Jou vyande sal jou onderdanig wees.

Jou broers sal in respek voor jou buig.

9Juda is soos ’n jong leeu,

hy vernietig sy prooi en keer na sy lêplek terug.

Soos ’n leeu krul hy hom in sy blyplek op

en niemand sal dit naby sy skuilplek waag nie.

10Juda sal nog koning word

en sy koningskap sal eeue lank duur.

Uit jou sal iemand kom wat regeer.

Van oral sal die volke kom

om in eerbied voor hom te buig en hom te eer.

11Juda sal altyd volop hê.

Aan sy wingerde sal die groot, ryp trosse swaar hang.

Sy donkies sal sommer van die beste druiwe staan en eet

en sy klere sal hy in rooi wyn was.

12Sy mooi oë sal donkerder as wyn wees

en sy tande wit van al die melk.

13“Sebulon sal langs die see bly.

Sy strand sal ’n hawe vir baie skepe wees

en sy gebied sal tot by Sidon strek.

14“Issaskar is soos ’n donkie wat ’n lekker lêplek soek

en hom by die skape se voerbak uitstrek.

15Vir Issaskar is sy woongebied mooi,

’n goeie plek om in te woon.

Daarom het hy baie hard gewerk.

Soos ’n slaaf het hy elke dag gewerk.

16“Dan sal ’n goeie leier vir sy mense wees

en sy stam net so belangrik soos al die ander stamme.

17Mag Dan soos ’n slang by die grootpad wees

wat die vyand se perde in die hakskeen byt

sodat die ruiter agteroor val.”

18Op hierdie stadium het Jakob ’n skietgebed opgesê:

“Here, ek wag dat U my kom red.” Toe het hy weer verder gegaan.

19“’n Bende rowers sal Gad aanval,

maar hy sal hulle oorwin en agternasit.

20“Aser se land is vrugbaar

en sy oeste ryk.

Selfs ’n koning kan van sy lekkernye eet.

21“Naftali is soos ’n takbok,

wild en vry,

en sy lammetjies mooi.

22“Josef is ’n vrugbare boom

wat by die fontein groei.

Sy takke groei oor die muur.

23Sy vyande het hom met alle mag aangeval

en hom met hulle pyle en boë agtervolg.

24Daar het egter niks van gekom nie,

want hulle boë was te styf

en hulle arms te bewerig.

Jakob se sterk God het Josef bewaar.

Israel se Herder en Beskermer

was heeltyd by Josef.

25Josef, dit is my God wat jou so help.

Dit is die almagtige God wat jou seën

sodat dit altyd by jou sal reën,

sodat daar genoeg water vir putte en fonteine sal wees

en sodat jou vee en kinders sal vermeerder.

26Josef, jy sal die goeie dinge van die lewe ontvang:

goeie koringoeste en groen weivelde,

ryp gesaaides soos in die ou tyd,

mooi en vrugbare heuwels.

Mag al hierdie woorde waar word,

want Josef is anders as sy broers

en hy sal hulle lei.

27“Benjamin is soos ’n woedende wolf.

In die môre vang hy sy prooi

en in die aand deel hy dit met almal.”

28Dit was Jakob se laaste woorde aan sy seuns, die latere twaalf stamme van Israel. Op dié manier het hy elke seun van hom gegroet en geseën.

Die dood van Jakob

29Jakob het vir oulaas met al die seuns gepraat. “Ek is besig om te sterf,” het hy gesê. “As ek dood is, moet julle my by my mense in die familiegraf by Magpela, net oos van Mamre in die land Kanaän begrawe.

30Abraham het dit destyds van Efron, die Hetiet, gekoop omdat hy dit as ’n begraafplek wou gebruik het.

31“Abraham is daar begrawe en ook sy vrou Sara. Isak en sy vrou, Rebekka, lê ook daar en dit is ook die plek waar ek Lea begrawe het.

32“Julle weet mos waar dit is. Dit is die grot wat Abraham vroeër van Efron, die Hetiet gekoop het. Nou vra ek mooi dat julle my ook daar sal begrawe.”

33Toe Jakob klaar gepraat het, het hy weer gaan lê en die laaste asem uitgeblaas.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help