Psalms 75 - Die Boodskap

1Asaf se lied vir die koor. Die wysie van “Moet dit nie vernietig nie” moet gebruik word

2Ons sê vir U uit ons hart uit dankie, o God.

Ons loof U, want U is by ons.

Oral vertel mense van die wonderlike dinge wat U gedoen het.

3“Op die regte tyd sal Ek mense regverdig oordeel,” sê God.

4“As alles op aarde en tussen die mense deurmekaarloop,

is Ek die Een wat sal sorg dat alles nie uitmekaarval nie.

5“Vir die mense wat te veel van hulleself dink, sê Ek: Hou op daarmee.

Vir slegte mense sê Ek: Moenie dink julle kan julle teenoor My belangrik hou of kanse waag nie.”

6Hou op om so vol van julleself te wees en maak of julle groter is as die Een wat in die hemel bly. Hou op om julle teen Hom te verset.

7Niemand in die hele wêreld kan sê wie regtig belangrik is en wie nie.

8God alleen kan dit doen, want Hy is die regter. Hy tel mense op, en Hy gooi hulle teen die grond. Net Hy besluit daaroor.

9Die Here het ’n beker vol wyn en giftige speserye in sy hand;

dit is soos sy woede en straf is.

Mense wat hulle nie aan die Here steur nie, sal die beker heeltemal leeg moet drink,

elke druppel.

10Ek sal altyd vir almal van God vertel. Ek sal liedere sing om die God van Jakob mee te prys.

11God sê: “Die slegte mense se mag gaan Ek breek.

Die goeie mense gaan Ek nog sterker maak.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help