1 Kronieke 27 - Die Boodskap

Militêre en burgerlike organisasie

1Hier volg ’n lys van die Israelitiese familiehoofde, die hoër en laer offisiere en die koning se amptenare wat in beheer was van die afdelings wat elke maand diens gedoen het. Die afdelings het maandeliks omgeruil en elkeen het uit 24 000 man bestaan.

2Die eerste afdeling, wat verantwoordelik was vir die eerste maand, was onder die bevel van Jasobam, Sabdiël se seun.

3Hy was uit die Peresgroep en in die eerste maand was hy hoof van al die leëroffisiere.

4Dodai uit Agoag was in bevel van die tweede afdeling vir die tweede maand. Sy afdeling se offisier was Miklot.

5Benaja, die hoëpriester Jojada se seun, was in bevel van die derde afdeling vir die derde maand.

6Hy was ’n sterk leier onder die Dertigtal en in bevel van die 30 helde in Dawid se leër. Sy seun Ammisabad het ná hom bevel van die afdeling oorgeneem.

7Asael, Joab se broer, was in bevel van die vierde afdeling vir die vierde maand. Sy seun Sebadja het hom opgevolg.

8Samhut, afkomstig uit Jisrag, was in bevel van die vyfde afdeling vir die vyfde maand.

9Ira, Ikkes se seun wat uit Tekoa gekom het, was in bevel van die sesde afdeling vir die sesde maand.

10Geles, afkomstig uit Pelon in Efraim, was in bevel van die sewende afdeling vir die sewende maand.

11Sibbekai, ’n afstammeling van Serag uit Gusa, was in bevel van die agtste afdeling vir die agtste maand.

12Abiëser, afkomstig uit Anatot in Benjamin, was in bevel van die negende afdeling vir die negende maand.

13Marai, ’n afstammeling van Serag uit Netofa, was in bevel van die tiende afdeling vir die tiende maand.

14Benaja, afkomstig uit Piraton in Efraim, was in bevel van die elfde afdeling vir die elfde maand.

15Geled, ’n afstammeling van Otniël uit Netofa, was in bevel van die twaalfde afdeling vir die twaalfde maand. Elkeen van hierdie afdelings was 24 000 man sterk.

Die leiers van die twaalf stamme

16Die volgende is ’n lys van die stamme van Israel en hulle leiers.

Stam Leier

Ruben

Eliëser, Sikri se seun

Simeon

Sefatja, Maäka se seun

17Levi

Gasabja, Kemuel se seun

Aäron (die priesters)

Sadok

18Juda

Elihu, een van Dawid se broers

Issaskar

Omri, Migael se seun

19Sebulon

Jismaja, Obadja se seun

Naftali

Jerimot, Asriël se seun

20Efraim

Hosea, Asasja se seun

Manasse (wes van die Jordaan) . Joël, Pedaja se seun

21Manasse (in Gilead)

Jiddo, Sagaria se seun

Benjamin

Jaäsiël, Abner se seun

22Dan

Asarel, Jerogam se seun.

Dit was die manne in beheer van die Israelitiese stamme.

Die onvoltooide sensus

23Toe Dawid die volkstelling gehou het, het hy nie die Israeliete wat jonger as twintig was, bygetel nie, want die Here het beloof om Israel so baie soos die sterre van die hemel te maak.

24Joab het met die sensus begin, maar dit nie klaargemaak nie, want dit het die Here se woede teen Israel laat uitbars. Daarom is die finale getal nooit in koning Dawid se boeke aangeteken nie.

Ander amptenare in Dawid se koninkryk

25Die toesighouer oor die koning se skatte was Asmawet, Adiël se seun.

Die toesighouer oor die koning se skatte op die platteland, in die stede, dorpe en vestings was Jonatan, Ussia se seun.

26Die toesighouer oor die landbouers wat die koning se lande bewerk het, was Esri, Kelub se seun.

27Die toesighouer oor die wingerde was Simi, afkomstig uit Rama. Die toesighouer oor die wynvoorrade in die wingerde was Sabdi, afkomstig uit Sefam.

28Die toesighouer oor die olywe en wildevye in die Laeveld was Baäl-Ganan, afkomstig uit Geder. Die toesighouer oor die olievoorrade was Joas.

29Die toesighouer oor die vee wat in Saron gewei het, was Sitrai afkomstig uit Saron. Die toesighouer oor die vee in die valleie was Safat, Adlai se seun.

30Die toesighouer oor die kamele was die Ismaeliet Obil. Die toesighouer oor die donkies was Jegdeja, afkomstig uit Meronot.

31Die toesighouer oor die kleinvee was die Hagareër Jasis. Hulle was almal toesighouers oor koning Dawid se besittings.

Die koning se persoonlike raadgewers

32Jonatan: Dawid se oom en raadgewer, ’n baie verstandige en geleerde man; Jegiël, Gakmoni se seun: die onderwyser van die koning se kinders;

33Agitofel: die raadgewer van die koning; Gusai die Arkiet: die koning se vriend;

34(Agitofel is later opgevolg deur Jojada, Benaja se seun en deur Abjatar); Joab: die koning se leërhoof.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help