1 Kronieke 5 - Die Boodskap

Die stamme oos van die Jordaan: Ruben

1Ruben was Israel se oudste seun. Nadat hy egter by een van sy pa se vroue geslaap het, is die status en voorregte wat hy as oudste seun gehad het, oorgedra op die seuns van Josef, Israel se seun. Hy is nie meer as die oudste seun gereken nie.

2Die stam van Juda het wel die sterkste een van al die stamme geword en ’n leier vir die volk opgelewer, maar Josef het steeds die rang van oudste seun gehad.

3Die seuns van Ruben, Israel se oudste seun, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi.

4Joël se afstammelinge was in volgorde: Semaja, Gog, Simi,

5Miga, Reaja, Baäl

6en Beëra. Beëra was die leier van die Rubeniete toe hulle deur koning Tiglat-Pileser van Assirië gevang en weggevoer is.

7Beëra se familie is volgens hulle afkoms per familiegroep in die register opgeneem. Jeïel was die leier en naas hom Sagaria

8en Bela seun van Asas, seun van Sema, seun van Joël.

Ruben se gebied

Die Rubenstam het in ’n gebied gewoon wat van Aroër af tot by Nebo en Baäl-Meon gestrek het.

9In Gilead het hulle vee só baie geword dat hulle al verder oos getrek het tot teen die woestyn wat tot aan die oewers van die Eufraatrivier strek.

10In Saul se tyd het hulle die Hagareërs aangeval en verslaan. Hulle het toe in die dorpies gaan woon wat hulle oorwin het. Dit was die hele oostelike deel van Gilead.

Gad

11Die afstammelinge van Gad het langs die Rubeniete in Basan gewoon. Hulle het tot so ver oos as Salka gewoon.

12Joël was die leier in Basan en Safam was die tweedebelangrikste leier. Verder was daar ook nog Janai en Safat.

13Hulle stamgenote was volgens hulle families: Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber, sewe altesaam.

14Hulle was afstammelinge van Abigajil, seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus.

15Agi, seun van Abdiël, seun van Guni, was die leier van hulle familiegroepe.

16Hulle het in Gilead en in Basan met sy dorpies gewoon en ook die weivelde van Saron gebruik, so ver as wat dit gestrek het.

17Dié registers is almal opgestel in die tyd van koning Jotam van Juda en koning Jerobeam II van Israel.

18Die Rubeniete, Gadiete en die halwe Manassestam het 44 760 weerbare manne gehad. Hulle was goed opgeleide soldate wat met skild en swaard en pyl en boog gewapen was.

19Toe hulle die Hagareërs en vir Jetur, Nafis en Nodab aangeval het,

20het hulle tot God gebid en hulp ontvang. Hy het hulle gehelp omdat hulle in Hom geglo het en hulle het die Hagareërs en almal wat aan die Hagareërs se kant was, oorwin.

21Hulle het ook baie vee gebuit: 50 000 kamele, 250 000 stuks kleinvee en 2 000 donkies. Daarby het hulle ook nog 100  000 mense gevange geneem

22en baie mense is in die gevegte dood, want God het dié oorlog gevoer. Hulle het toe in die verowerde gebied gewoon totdat die ballingskap aangebreek het.

Die halwe Manassestam

23Die halwe Manassestam het in ’n gebied gewoon wat van Basan af tot by Baäl-Hermon, Senir en Hermonberg gestrek het. Hulle was baie.

24Hulle familiehoofde was Efer, Jisi, Eliël, Asriël, Jeremia, Hodauja en Jagdiël. Hulle was almal goeie vegters, met ’n goeie naam en leiers van hulle families.

Die wegvoering van die stamme oos van die Jordaan

25Hierdie stamme was nie gehoorsaam aan die God van hulle voorouers nie. Hulle het die gode begin dien van die volke wat God uitgeroei het om vir hulle daar plek te maak.

26Dit is om dié rede dat die God van Israel vir koning Pul van Assirië (dit is Tiglat-Pileser) gebruik het om die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam aan te val en hulle as krygsgevangenes weg te voer. Die Assiriërs het hulle na Galag, Gabor, Hara en die Gosanrivier weggeneem. Hulle is nou nog daar.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help