Numeri 1 - Die Boodskap

1In die middel van die lente in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het, het die Here met Moses in die tabernakel, die spesiale tent waar Hy hom ontmoet het, gepraat en vir hom gesê:

2-3“Jy en Aäron moet ’n sensusopname van die hele volk volgens hulle familiegroepe en stamme hou. Skryf die name op van al die mans van twintig en ouer wat militêre diens kan doen.

4Kry een hoof uit elke stam om julle hiermee te help.

5Hier is die name van die mense wat julle moet help: uit die stam Ruben: Sedeür se seun Elisur;

6uit Simeon: Suri-Saddai se seun Selumiël;

7uit Juda: Amminadab se seun Nagson;

8uit Issaskar: Suar se seun Netanel;

9uit Sebulon: Gelon se seun Eliab;

10uit die nageslag van Josef, uit Efraim: Ammihud se seun Elisama, en uit Manasse: Pedasur se seun Gamliël;

11uit die stam Benjamin: Gidoni se seun Abidan;

12uit Dan: Ammi-Saddai se seun Agiëser;

13uit Aser: Okran se seun Pagiël;

14uit Gad: Reüel se seun Eljasaf;

15uit Naftali: Enan se seun Agira.”

16Hierdie stamhoofde, wat almal leiers in hulle eie families is, is die mense wat toe deur die volksvergadering aangewys is.

17-18Moses en Aäron het saam met hierdie leiers toe die volk op daardie dag bymekaar laat kom om hulle te laat registreer volgens hulle familiegroepe en stamme. Al die mans van twintig en ouer se name is een vir een opgeskryf,

19volgens die Here se opdrag aan Moses. Dit het in die Sinaiwoestyn gebeur.

20-46  Die weerbare manne se getalle volgens hulle stamme was:

van Israel se oudste seun Ruben

46 500

van Simeon

59 300

van Gad

45 650

van Juda

74 600

van Issaskar

54 400

van Sebulon

57 400

van Josef se seuns:

Efraim

40 500

Manasse

32 200

van Benjamin

35 400

van Dan

62 700

van Aser

41 500

van Naftali

53 400

Daar was altesaam 603 550 weerbare manne wat twintig jaar en ouer was. Hulle getalle is bereken volgens hulle families.

47-48Hierdie getalle het nie die Leviete ingesluit nie, want die Here het vir Moses gesê:

49“Moenie die Leviete bytel wanneer jy die Israeliete tel om te sien hoeveel soldate jy het nie.

50Jy moet hulle gebruik om toesig te hou oor die tabernakel, die spesiale tent wat die bewys van my teenwoordigheid by julle is. Hulle is ook verantwoordelik vir al die gereedskap en toebehore wat deel is van die tabernakel. Net hulle mag die tabernakel dra en met hierdie gereedskap werk. Daarom moet hulle hulle tente rondom die tabernakel opslaan waar julle ook al kamp.

51Wanneer die tabernakel verskuif moet word, is dit die Leviete se werk om dit op en af te slaan. Enigiemand anders wat dit naby die tent waag, moet onmiddellik doodgemaak word.

52Die res van die Israeliete moet hulle kamp volgens hulle verskillende leërafdelings opslaan. Elke afdeling het sy eie vlag.

53Die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel, wat sê dat Ek by julle is, opslaan. Hulle moet die tabernakel oppas. Dit dien as beskerming vir die res van die volk, sodat iemand nie per ongeluk daar inkom en Ek baie kwaad word vir die Israeliete nie.”

54Die Israeliete het toe alles presies volgens Moses se voorskrif gedoen.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help